Romeine Preekreeks

God bring vrede waar daar vyandskap was.

In Romeine 5 wys Paulus op die wonderlike vrug van regverdigmaking deur die geloof. Omdat Christus ons skuld gedra het, het ons nou vrede by God. Hierdie vrede is nie bloot ’n innerlike gevoel nie, maar die herstel van ons verhouding met God. Waar daar voorheen vyandskap was, het God deur Jesus Christus versoening bewerk.

God vervul sy beloftes, selfs wanneer dit onmoontlik lyk.

Ons leef almal tussen God se beloftes en die uiteindelike vervulling daarvan. Dit is juis in hierdie wagtyd dat geloof beproef word. In Romeine 4:13-25 wys Paulus dat Abraham nie deur die sigbare werklikheid geleef het nie, maar deur die vaste belofte van God. Menslik gesproke was daar geen rede om te verwag dat hy en Sara nog ‘n kind sou hê nie. Tog het Abraham bly glo, omdat hy oortuig was dat God doen wat Hy belowe.

God regverdig die goddelose deur geloof alleen.

Hoe kan ’n sondige mens reg voor ’n heilige God staan? Dit is die groot vraag waarmee Paulus in Romeine 4 worstel. Nadat hy in Romeine 1 tot 3 bewys het dat alle mense skuldig voor God staan, wys hy nou hoe God sondaars regverdig. Om sy saak te bewys, roep Paulus twee van die grootste figure uit die Ou Testament as getuies op: Abraham en Dawid.

God verwag ’n opregte hart. Nie uiterlike godsdienstigheid nie.

In Romeine 2:17–29 waarsku Paulus ernstig teen die gevaar van uiterlike godsdienstigheid sonder innerlike vernuwing. Die Jode van sy tyd het groot voorregte gehad: hulle het die wet van God geken, die verbondstekens gedra en hulleself as die volk van God beskou. Tog wys Paulus dat uiterlike voorreg en godsdienstige kennis niemand regverdig maak voor God nie.

God oordeel volgens waarheid.

In Romeine 2: 1 – 16  rig Paulus hom spesifiek tot die mens wat ander oordeel, en ontbloot so die gevaar van selfregverdiging. Die kernboodskap is dat God se oordeel nie soos die mens s’n is nie. God oordeel volgens waarheid. Wanneer ons ander veroordeel, wys ons daardeur dat ons self die “standaard” ken, en dit staan opsig self as getuienis wat ons aankla.

God openbaar homself duidelik, en daarom het niemand ’n verskoning nie.

In hierdie tweede preek uit Romeine kyk ons na die ernstige werklikheid van God se toorn oor sonde. Die Woord van God leer dat Hy Homself duidelik aan alle mense openbaar. Deur die skepping is sy ewige krag en goddelikheid sigbaar. Daarom is niemand onkundig nie en staan elke mens sonder verontskuldiging voor God.

Die evangelie is die krag en troos van God.

In hierdie eerste preek word ons herinner aan die kern van die Christelike geloof: die evangelie van God. Die apostel Paulus stel homself voor as ’n dienskneg van Christus – ’n man wat nie meer aan homself behoort nie, maar geheel en al aan sy Here. Hierdie waarheid sluit direk aan by die Heidelbergse Kategismus Sondag 1: Ons enigste troos in lewe en in sterwe is dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan Jesus Christus.