Preke

God se Woord het nie gefaal nie.

Vanaf hierdie Sondag af begin ons met Romeine 9 tot 11. Paulus behandel hier ’n moeilike vraag: As so baie Israeliete Jesus Christus verwerp het, het God se beloftes aan Israel dan misluk?

God dra sy kinders deur lyding tot by heerlikheid.

Die Nagmaal herinner ons aan die vaste grond van ons hoop: Jesus Christus het sy lewe vir ons gegee en ons met God versoen. Tog leef ons steeds in ’n wêreld van versoeking, lyding, swakheid, verlies en dood.

God leer sy kinders om hulle eie onvermoë te erken en hulle verlossing in Jesus Christus alleen te soek.

In Romeine 7:14 – 25 beskryf Paulus die werklikheid van die gelowige se voortdurende stryd met sonde. Hy sê: “Die goeie wat ek wil, doen ek nie; maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.” Tog is dit juis hierdie gedeelte wat wys dat die gelowige se verhouding tot sonde verander het. Paulus sê dat hy die kwaad haat, dat hy hom in sy diepste wese oor God se wet verbly en dat hy verlang om die goeie te doen. Die sonde is nog in hom teenwoordig, maar dit is nie meer sy koning nie.

God bevry sy kinders uit die slawerny van die sonde om Hom te dien.

Ons leef in ‘n wêreld waar mense vryheid dikwels verstaan as die reg om self te besluit hoe hulle wil leef. Paulus wys egter dat daar nie so iets soos volkome onafhanklikheid bestaan nie. Elke mens dien ‘n  heer. Die vraag is nie óf ons iemand dien nie, maar wie ons dien.

God verenig sy kinders met Christus tot ‘n nuwe lewe

As God se genade groter is as ons sonde, beteken dit ons kan maar aanhou sondig? Paulus antwoord met sy sterkste moontlike ontkenning: “Hoegenaamd nie!” Die rede is nie eerstens omdat sonde verkeerd is nie, maar omdat God iets ingrypend met elke gelowige gedoen het.

God bring vrede waar daar vyandskap was.

In Romeine 5 wys Paulus op die wonderlike vrug van regverdigmaking deur die geloof. Omdat Christus ons skuld gedra het, het ons nou vrede by God. Hierdie vrede is nie bloot ’n innerlike gevoel nie, maar die herstel van ons verhouding met God. Waar daar voorheen vyandskap was, het God deur Jesus Christus versoening bewerk.

God vervul sy beloftes, selfs wanneer dit onmoontlik lyk.

Ons leef almal tussen God se beloftes en die uiteindelike vervulling daarvan. Dit is juis in hierdie wagtyd dat geloof beproef word. In Romeine 4:13-25 wys Paulus dat Abraham nie deur die sigbare werklikheid geleef het nie, maar deur die vaste belofte van God. Menslik gesproke was daar geen rede om te verwag dat hy en Sara nog ‘n kind sou hê nie. Tog het Abraham bly glo, omdat hy oortuig was dat God doen wat Hy belowe.