Preekskets:
In 1 Korintiërs 9 sê Paulus dat hy “dit alles” doen ter wille van die evangelie, sodat hy ook daarin kan “deel”.
Hierdie “deel” is die bekende “koinonia” wat onderlinge meelewing onder gelowiges beskryf, maar in hierdie konteks selfs nog dieper. Paulus sê hy is ’n mede-deelnemer (sun-koinonos) in die evangelie.
In die ’53 vertaling word dit mooi as “deelgenoot” vertaal. Hierin lê vir ons ’n diep en ontsaglike ryk verklaring van hoe ons as gelowiges aktief saam deelneem in die evangelie van Jesus Christus.
Dis soveel meer as om net te glo. Dit is om jou geloof aktief uit te leef.
Soveel meer as om net “kennis te neem” van die “goeie nuus”. Dit is om in ’n lewende verhouding met die Here te wees. Om te begryp “wat” die goeie nuus is, werklik daaroor bly te wees, en uit jou hart uit daarna te streef om ander daaraan te laat deel kry.