Preekskets:
In Paulus se afskeidsboodskap aan die ouderlinge van Efese is daar baie emosie betrokke. Hy verseker hulle dat hulle hom nie weer sal sien nie, en druk dit op hulle harte dat hulle verantwoordelik moet voortgaan met hulle bedieningsopdrag.
Soos hy daarna streef om sy lewenstaak en bedieningsopdrag uit te voer, behoort hulle ook die roeping wat God deur sy Gees op hulle gelê het met verantwoordelikheid uit te voer. ’n Oproep op beide die “herders” sowel as die “kudde”!
“28Pas julleself op, en ook die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om die gemeente van God, wat Hy deur sy eie bloed verwerf het, herderlik te versorg.”
’n Opdrag…. maar nie sonder troos en versekering nie…
“32En nou vertrou ek julle toe aan God en sy woord van genade, Hy wat die mag het om op te bou en aan julle onder almal wat geheilig is, ‘n erfenis te gee.”
Al is dit ’n opdrag, is dit met die wete dat dit in die krag van God gedoen word. Dit is net God wat die mag het om die gemeente op te bou. Want dit is in die eerste plek nie die ouderlinge se kerk nie, maar God se Kerk. Daar is daarom net een manier hoe die ouderlinge hierdie opdrag kan aanpak: Deur God se Woord van genade.
Die gemeente se verantwoordelikheid lê in die besef dat ouderlinge met ’n mandaat vanaf God, maar ook verantwoordelikheid teenoor God hierdie opdrag moet uitvoer. Daarom roep hierdie gedeelte terselfdertyd die gemeente op tot samewerkende gehoorsaamheid.
