Preekskets:
Die hoofstuk begin met ‘n uiters bemoedigende uitspraak: “Vryheid – is waarvoor Christus ons bevry het!” Dan volg die opdrag: “Staan dan vas…!”
Vryheid, bevry laat jou dink aan gevangenskap en binding en inperking waaruit jy losgekom het. Deur Jesus Christus is ‘n nuwe weg oopgemaak.
Op hierdie weg is dit die Heilige Gees wat ons lei. Maklik is dit nie. Pasop, die pad is vol afdraaipaaie van verleiding. Ons staan egter verwonderd in die tyd waar ons die koms van die Heilige Gees met Pinkster gedenk. In die Vader was God ver en ontoeganklik. Deur die Seun het Hy onder ons kom woon. Nou deur die Heilige Gees is Hy in ons en kan ons deur Hom leef en in pas met Hom bly. Deur Hom word ons lewe nuut en anders. Ons lewe deur die Gees!