Preekskets:
Dit is die Here! Johannes meld dat dit die derde keer was wat die Here aan hulle verskyn het. Die vorige twee keer word in Johannes 20 genoem
- Op die opstandingsdag (20:19-23)
- Agt dae later waartydens Thomas sy kragtige belydenis gedoen het (20:24-29)
- By die See van Tiberias was die derde keer.
In die eerste twee verskynings het Jesus Christus sy dissipels bemoedig en bekragtig. Dit was soos die begin van ‘n erediens: “Vrede vir julle”, aan die begin en einde, ‘n preek met ‘n opdrag: Ek stuur julle! Dan word hulle toegerus met die Heilige Gees wat Hy op hulle blaas.
Die tweede verskyning was al die dissipels teenwoordig. Die aandag is gerig op Thomas, die ongelowige. Die erediens het weer met die groet van vrede begin. Sy geloofsbelydenis is aangrypend: “My Here en my God!” Dan die versekering: Wat opgeteken is, is genoegsaam om te glo dat Jesus Christus die Seun van God is!
Die derde verskyning is by die See van Tiberias, op die strand. Hulle is terug by die beroep waarmee hulle so vertroud was – visvang! Dit was egter nie God se plan met hulle nie.
So raak dit ons ten diepste – God se plan en ons planne. God se bemoediging en ons blindheid. Asof uit die niet, is die Here by ons om ons daaraan te herinner: Hy is Here, ons Here, wat ons toerus, bemagtig en die wêreld instuur. Ons boodskap is die evangelie, wat genoegsaam is om te glo en die ewige lewe te hê.