Preekskets:
Dit is wonderlik om te weet dat ons verlossing vir ons sondes het, op grond van Jesus Christus se verdienste. Hy is ons Verlosser. Ons weet dit, en ons glo in Hom! Die vraag is: Waaruit weet ons dit, en hoekom glo ons dit? Dit is nie asof ons Hom al ooit met ons eie oë gesien het of persoonlik daar was met sy kruisiging om dit te kon beleef nie.
So waaruit weet ons dit…? Die antwoord is: Ons weet dit omdat die evangelie daaroor getuig. Soos ons nou hier in Lukas 4 gelees het. Die Bybel getuig van Hom. Maar meer as net getuig, is daar ook in die evangelie, in ons Bybels, die bewys
daarvan. Dit wat ons oortuig. Dit wat ons kennis oorsit in ’n vaste vertroue.
Dit is as’t ware, die “ontstaan” van ons geloof. Wanneer die kennis en vertroue bymekaarkom. En ons sal sien uit hierdie Skrifgedeelte hoe die eerste deel van ’n ware geloof ten nouste verbonde is aan ’n vasstaande kennis. Volgende Sondag sal ons dan ook sien wat ons vaste vertroue behels, en wat ’n ware geloof in sy geheel is.