Preekskets:
In Eksodus 17 bring die Here sy volk volgens sy eie bevel na ’n plek sonder water. Refidim is nie ’n ongeluk nie, maar ’n goddelike ontmoeting. Israel se dors wys die toestand van hulle hart — hulle verwyt Moses en vra: “Is die HERE in ons midde of nie?” (v.7). Hierdie vraag is nie net onsekerheid nie, maar is die diepste wortel van ongeloof. Dit is om God se karakter, trou en nabyheid te bevraagteken.
Tog antwoord die Here nie met oordeel nie, maar weereens met genade. Hy beveel Moses om die “staf van oordeel” te neem — dieselfde staf waarmee hy die Nyl geslaan het. God sê: “Kyk, Ek sal daar voor jou staan op die rots by Horeb.” Wanneer Moses dan slaan, tref die staf simbolies vir God self.
Hier lê die evangelie verkondiging: die rots was Christus (1 Kor. 10:4). Die water wat uitvloei, is ’n beeld van die lewe en die Gees wat Christus vir ’n dors volk bring. Die plek van twis word die plek van voorsiening.
So herinner die Nagmaal ons dat Christus, die geslane Rots, vir ons gebreek is. Die brood en die beker versterk ons geloof en verseker ons dat Hy werklik vir ons gesterf het, sodat ons mag lewe. Aan die tafel hoor ons God se antwoord op ons grootste vraag: “Ja, Ek is by jou.”
