Preekskets:
Verlede Sondag het ons geleer waaroor die verbond gaan wat God met Abram gesluit het. Dit het gegaan oor God se beloftes aan hom en sy nageslag. Oorhoofs was dit God se belofte van seën wat uitgestaan het.
Abram was geseën sodat hy tot seën kan wees. Uiteindelik is dit ’n seën wat bedoel is om uit te gaan na alle volke nasies en tale. ’n Seën wat in Christus vervul word. God se verbond-seën bring almal wat verstrooi en verlore is terug na Hom toe. Mits hulle in sy beloftes glo.
Maar watter rol speel die “wet van Moses” dan hierin? Ons het tog in Deuteronomium 5 gehoor dat God daar ’n verbond gesluit het met Israel. Elke verbond/ooreenkoms het tog sy “bepalings en voorwaardes”, die “reëls” wat nagekom moet word. Is dit dieselfde verbond… ’n nuwe verbond… ’n ander verbond as die een wat God met Abram gesluit het…?
Het die “wet van Moses” (die 10 gebooie) dan nog ’n plek vandag? Hoekom lees ons dit dan steeds elke Sondag?
Paulus verduidelik in Galasiërs en Romeine baie mooi wat die plek van die wet was, en steeds is. Vandag kyk ons na Galasiërs 3, en hoe Paulus verduidelik dat die wet ’n “toesighouer” en “oppasser” was. Ons kan sê…. ’n Morele kompas.